Header
 

`n Hartstog vir die lewe

Romeine 12:11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here;

Ywer/Geesdrif is sommer net ander woorde vir ‘n passie/hartstog.
Ons merk dit so duidelik op dat daar so baie mense vandag is wat hulle passie en geesdrif/ywer vir die lewe verloor het. Op ‘n tyd was hulle so verskriklik opgewonde oor hulle drome en het hulle elke dag opgestaan met ‘n doel en passie, maar nou, soos die tyd verloop het en hulle teleurstellings ondervind het, is hulle nie meer opgewonde oor hulle drome nie.
Hulle het hulle vuur verloor.

My dierbare vriend/in, God wil hê ons moet met passie lewe! Dit was en is nooit God se bedoeling dat ons stagneer en ‘n doodgewone lewe lei nie. Ons dien ‘n buitengewone God en hoor hier; ons is geroepe om ‘n troue weerspieëling van Hom te wees.
Die waarheid is dat die grootste deel van ons lewe maar gewone roetine is of “boring” soos die jeug sê. Ons moet hard werk om dinge vars en sprankelend te hou. Ons moet ons rêrig inspan om passievol te bly in ons werk, ons verhoudings en in ons wandel saam met God. Ons glo dat ons elke dag onsself in ‘n soort beroering moet bring net soos Paulus vir Timoteus vertel het om elke dag die vlamme aan te blaas.
Met ander woorde hy moes sorg dra dat die vuur in hom nie doodgaan nie. Bly passievol oor jou lewe sodat ons altyd vorentoe kan beweeg en dat ons die drome kan koester wat God in ons binneste geplaas het.

Gebed vir vandag

Onse Vader in die hemel, dankie vir U Woord wat waarheid en my vrymaak. Help my om ‘n passie in my hart op te wek sodat ek U vurig mag liefhê. Dankie dat U my handel en wandel bewaar en my voetstappe na U toe lei sodat ek elke droom en belofte wat U vir my het kan omhels. In Jesus se wonderbare Naam alleen.
Amen

Gerrie van Zyl
 

Kant Kaart