My kersie brand weer
Mat 12:20 "'n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en 'n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie..."
Dierbare vriende,
Ek wens vandag so dat ek so baie ander mense se e-pos adresse ook kon hê, maar sovele het nie eens 'n e-pos adres nie want ek glo hulle sou ook weer moed geskep het om voort te gaan op hierdie lewenspad met die lees van hierdie kort skrywe.
Daar kom tye in my eie lewe wat ek waarlik voel soos 'n geknakte riet en 'n lamppit wat rook.
Dit laat my dink aan nou die dag toe ons by ons kleinseun se verjaardag was.
Amelia het soos gewoonlik kersies op die koek gesit, maar toe Reinhard die agt kersies begin doodblaas het, het hulle skielik klein vlammetjies soos 'n "starlights" gestrooi oor die koek en bloot net weer vlam gevat nadat dit vir 'n oomblik "doodgegaan"!.
Ek het met verstomming toegekyk hoedat die kersies oor en oor geweier het om te "sterf" en net weer en weer opgevlam het.
Vir 'n ouma wat nie veel gewoon is nie (haha) was dit ongelooflik. Toe vind ek uit dat daar juis so 'n soort kersie is wat te koop is.
Hy steek homself bloot net weer aan die brand totdat hy opgebrand is as iemand hom nie uit die koek ruk en met mening dood druk nie.
Ons as brose mense is egter nie so saamgestel nie. Daar kom tye wanneer die lewens eise en ons swaarkry, selfs al is ons kinders van die Here net vir ons te veel word om te hanteer.
Dan voel mens soos 'n geknakte riet en dit voel asof daar glad nie 'n manier is vir ons om weer "ongeknak" te kan word nie.
Ja, ons voel soos 'n dowwe lamppit of kersie wat op die punt is om dood te gaan.
Ons kruis soos ons dit dikwels noem word net te swaar en ons sien nie kans vir nog een enkele tree nie.
Eenmaal is die verhaaltjie vertel van 'n man wat by Jesus gekom het en vir Hom gesê het dat hy nie langer kans gesien het om sy kruis nog 'n tree verder te dra nie. Dit het nou net dood eenvoudig te swaar geword.
Toe wys Jesus vir hom 'n stoor en sê aan hom dat daar baie kruise is wat mense moet dra en dat hy daarheen kan gaan en maar syne mag ruil met 'n ander een s'n wie 'n ligter kruis het.
Die man het daarheen gegaan en gesien hoe geweldig swaar ander se kruis is en op die ou end met blymoedigheid maar sy eie kruis weer verkies.
Miskien voel u nie vandag soos die "starlight" kersie nie. U is net nie instaat om weer self "vlam te vat" nie dan dink ek weer aan die ou koortjie wat sê:
"'n Bietjie praat met Jesus maak dit reg. Alles reg."
En hoe waar het ek dit nie al so dikwels in my eie lewe gesien nie. Om net so 'n bietjie stil te gaan raak aan Sy voete en net sommer my hart uit te huil.
Ag woorde is nie nodig nie want Hy weet mos alles, maar wanneer ek opstaan van my kniee dan sien ek weer kans vir die pad vorentoe.
Weet dat Hy u krag is vir vandag, more en vir elke dag tot daardie dag wanneer ons Hom sal sien en O! ek weet wanneer ons net eenmaal in Sy liefdevolle oë sal kan kyk sal ons uitroep:
"Ja waarlik dit was die moeite werd om aan my Verlosser te bly vashou en ook aan Sy beloftes in Sy woord want dan sal ek uitroep: Hy was waarlik die beginner en die voleinder van my geloof".
Al die eer aan Sy Majesteit.
Jesus Christus
Seëngroete,
Wilna Lubbe