Header
 

Wat sou dit vat om Braam van Noordwyk te verander?

Koerant uitknipsel

Ja op 2006-04-25 het my hele lewe verander in sekondes. Voor die ongeluk was ons op vakansie by Dikololo 'n vakansie wat ek vir altyd sal onthou, my lewe is dan reg wat kon verkeerd gaan? Die “eie ek” kon alles vir homself doen en het niemand iets gevra nie. Maar voor die ongeluk het ek die belangrikste vergeet en die belangrikheid daarvan en dit was die HERE. En toe kla die duiwel my aan by die HERE en toe begin 'n nuwe wêreld wat ek nie ken nie 'n nuwe verhaal in die lewe van die “nuwe Braam”

Sou ek ooit kon besef die ergste is nog oppad:
Ek het dan baie oorleef deur al die jare wat kan dan ooit erger gebeur as wat met my nou gebeur het, want ek lewe al verstaan ek nie en moes nog sin maak uit alles wat met my gebeur het, my drie vriende is weg vir altyd.
Ons was soos familie omdat ons baie weg was van die huis af, om vir ons families te kan voorsien. Waarom lewe ek, waarom het ons nie maar almal gegaan nie, of hoekom het ons nie almal oorleef nie, want dit is mos wat 'n ”EENHEID” is.

Veral as die ou wat bestuur het se ouers so huil, dat die trane op jou hospitaal bed val. Hoekom vra ek?
Hy sou later daai jaar trou. Dit het my gebreek en het gewens ek kon met hulle plekke ruil. Omdat ek nie verstaan het nie. Het ek nie besef dat die ”ou Braam” ook dood was in die ongeluk nie en dat die HERE my gered het uit sy groot genade en liefde en eers baie later het die “eenheid” beginsel weer vir my begin sin maak. Die “ou Braam” het geweet van die HERE, maar het die HERE nie geken soos die ander 3 nie en die HERE was nie eerste in sy lewe nie.

In Hospitaal

Soos 'n kind is ek nou in 'n nuwe wêreld en gaan maar soos 'n kind van vooraf leer.
Voor die ongeluk was ek so 1-maal in 8 maande in die kerk, waarby ek dan so skuldig voel oor my roekelose lewe vol geweld by die werk, maar die volgende dag is ek maar weer terug by die werk, op my ou trant, al my gevoelens veilig toegesluit in my hart. Heel onbewus dat my vrou en kinders by die HERE gepleit het dat Braam tog moet verander en nie so 'n harde mens moet wees nie. Onbewus hoe verkeerd ek was het ek nie besef dat ek die mooiste ”eenheid“ wat die HERE my gegee het, eintlik my familie is wat ek al so lank, verwaarloos het omdat ek hulle alles wou gee en as ek maar net die HERE gevra het en op HOM vertrou het, dan sou HY dit in elke geval gegee het.

'n Polisieman, veral op die eenheid waar ek was, mag nooit sy gevoelens wys nie. Maar GOD antwoord op sy eie tyd, miskien op maniere wat ons nie altyd verstaan nie.
Ek het baie vrae gehad na die ongeluk, waarvan die bekendste een seker is "HOEKOM"?, en ek het toe my antwoorde in die BYBEL gaan soek.

Vir 17 dae kon ek niks onthou nie, nie eers die ongeluk nie. Dit is beter so, want ek was paar keer dood of omtrent dood in die ICU, miskien vleeslik maar geeslik het ek begin lewe en begin groei. Na n lang tyd in hospitaal, huistoe en wou nie terug gaan werk toe nie. Ek was omgekrap en het nie verstaan nie.
2 Maande voor ons ongeluk is my swaer oorlede, ons het van kinders af saam groot geword en hy was eintlik vir my soos n ouboet, dis of die trauma net nie wou ophou nie, alles so opmekaar en of daar nie eers genoeg tyd was om met een situasie te besin nie, dan tref die volgende een.
Vir die eerste keer het ek begin besef dat daar 'n doel is met my lewe al het my drome vir die aardse lewe in skerwe gespat en ek het op die harde manier begin besef dat my lewe nie reg is nie en dat ek 'n kans gekry het om dit reg te maak, omdat die HERE my gered het uit die ewige dood uit.
In die aardse lewe was ek as polisieman gewoond om aan die ”donker-kant” van die lewe te lewe, miskien is dit maar as gevolg van ons werk, maar die HERE het 'n orde daar gestel en dit is dat HY eerste moet wees en dan jou familie en dan jou werk.

Koerant 2

By my was dit heeltemal andersom, dit het my baie lank gevat om die les te leer. Ons moet stil word voor die HERE en besef dat ons nie moet aanpas by die dinge van die wêreld nie, maar ons moet aanpas by GOD se woord.
Ons moet ons nie laat “fool” deur die duiwel se mooi en lekker advertensie reklames nie. GOD het met 'n woord die heelal geskep. Groter as wat ons ooit sal besef, waarom sal GOD terug gaan op SY woord, waarom sê mense dan ons moet aanpas by die tye van die wêreld? Ons moenie by die wêreld aanpas nie, die wêreld moet by GOD aanpas.
Ons moet sover menslik moontlik GOD se woord in mense se harte plant en GOD sal dit self lewende water gee.
Hoeveel harte moet nog breek,hoeveel siele moet nog verlore gaan, voordat ons vir die HERE iets gaan begin doen?
Is ons doel op aarde nie om iemand een tree nader aan die HERE te kry nie?

Elke man het iets vanaf God gekry:
Elke man het gawes gekry vanaf GOD, want ons is na SY beeld geskape. Party het n “fighting-spirit”, ander deursettingsvermoë, ander 'n sagte geaardheid ens.
Elkeen is uniek, alles wat nie mooi is nie kom nie van die HERE af nie, maar ons moet die gawes wat ons van die HERE gekry het vir die HERE gebruik en nie op die duiwel se speelveld nie. As dit nie vir die HERE was nie sou ek nie eers 2007 gesien het nie, nie eers met my eie pogings nie, want sonder Hom kan geen mens dit maak nie, want ons sondige lewens is in SY hande.
Ek is dankbaar die HERE dra my die dae as ek voel ek kan nie meer nie, en dat die HERE van my verwag om die toets te slaag en dat ek nie moet opgee nie en dat ek moet volhard tot die einde toe. Ek is dankbaar die HERE het vertroue in my en sal sover menslik moontlik alles doen om HOM nie telleur te stel nie. 1 korintiers 10/12-13

Saam met dogter op strand

Ek was nooit iemand met baie mooi woordjies nie en wat baie gepraat het nie, want alles was in my hart en het verwag dat mense dit in my oë sou sien en sal seker so doodgaan eendag, nie soos ander wat altyd die woorde het wat ander wil hoor nie en met dit te koop rondloop nie. Die wonderwerk is nie dat ek weer kan loop nie, al loop ek nog moeilik die wonderwerk is dat ek die antwoord gekry het en dit is JESUS. Ons sal GOD se werke nooit verstaan nie, want vir ons as mense is ons te klein daarvoor.
Wat ek wel nou weet, is dat die lesse wat jy nie van jou pa geleer het nie, die lewe jou sal leer, want wie sal ooit besef hoe diep 'n man se liefde lê, nog te meer hoe diep GOD se liefde vir ons is.

So wil ek eendag by die Here wees, so beskermd en geliefd.
Na die ongeluk het die HERE begin om my lewe te verander en my op Sy wee te bring, die duiwel was nie baie gelukkig hiermee nie en het hy my weer gaan aankla by die HERE, met die bedoeling as hy Braam se fisiese wegvat of hy nog vertroue in die HERE sal hê, besef mense wat die duiwel van my gevat het, want Braam was fisies met alles.
My werk en alles om man te wees het fisies vereis. Dit het my amper gebreek, vir die eerste keer het ek nie geweet hoe om die moeilike situasie te hanteer nie, maar omdat almal in traumatise situasies deur verskillende fases gaan het die duiwel baie veld gewen, maar nou weet ek dat die HERE het verstaan, want ons is net mense.

Op rystoel

6 Maande na die ongeluk het ek terug gegaan Dr. toe en aan hom gesê ek wil net 4 dae in hospitaal wees en het hy my verseker dat na 8 weke sal ek weer reg wees. Aangesien ek nie my linkerhand kon gebruik nie en my regter been wat ek op 3 plekke lelik gebreek het, nog nie aangegroei het nie, onwetend dat die Dr. dit oorweeg het om my been af te sit as hy nie sou heg nie.
My lewe moes aangaan, want nou gaan ek mos reg wees. In Oktober 2006 is ek toe hospitaal toe met krukke, na 'n lang operasie het ek verlam geword, wie sou nou ooit kon verstaan hoe ek moes voel, maar die duiwel vat altyd daar waar dit die seerste maak. Ek was so kwaad vir die wêreld, herken ek.
Na maande is ek huis toe om te sien of ek met die “GO-KART” sal regkom. Ek was seker nie die maklikste mens op daai stadium nie, ek kon nie sin maak uit wat met my gebeur het nie, en wou dit nie aanvaar nie - nie ek nie - hoe kan dit wees? MAAR-toe gebeur die draaipunt in my lewe.
Ek het die Vrydag die voorreg gekry om n stukkie van GOD se grootheid te sien, daar was “'n engel“ van die HERE by my, ek was so bang dit het gevoel of ek doodgaan en kon nie n woord uitkry nie, nie omdat dit vreemd was nie, maar oor die krag en majesteit wat daar was en dit is wat my aan die gang hou tot vandag toe.
Hoe gaan ons voel as ons GOD se hele grootheid gaan sien eendag!

Op vierwiel motorfiets

Later het nog iets gebeur wat my laat wonder het of die HERE nie vir my iets wil se nie-
My dogtertjie kom die huis ingehardloop met 'n plastieksakkie, toe geknoop, wat iemand oor die muur gegooi het, haastig gee sy dit vir my, want mamma wag in die kar, want hulle moet skool toe. In die swart sakkie was 'n briefie met die volgende daarop geskryf en 'n sleutelhouer.

Openbaring
Die Bruilofsmaal (Matt:22)

Liewe vriend
Jy ken my nie maar ek ken jou, deur middel van 'n openbaring van iemand wat nie meer met ons is nie.

Boodskap
Buddy ek sien dat jy worstel met baie dinge na die ongeluk. Ek sien dat GOD jou in n groot beproewing het in die rolstoel.
Ek sien dat GOD jou tot stilstand geroep het. Ek sien dat GOD jou wil terugbring van die rowwe pad na die gelykpad.
Buddy ek sien die onsekerheid, ek sien die verwardheid, ek sien dat jy ongelukkig is, ek sien dat jy bang is, ek sien dat jy kwaad is.
Buddy ek bring vir jou die uitnodiging na GOD se Bruilofsmaal, al wat jy hoef te doen, bekeer jou en neem HOM aan.
Vertrou HOM, want HY sal alles voorsien wat jy nodig het.
Neem die eerste tree, kry vergifnis by GOD, gaan dan na jou Prediker vir raad en leiding. Draai na jou gesin, gryp hulle liefde en ondersteuning aan. Weet dat jou familie vir jou bid en altyd by jou is.

Moet asseblief nie die uitnodiging wat GOD aan jou rig van die hand wys nie. Daardeur kan jy alles verbeur wat GOD jou beloof het.
Buddy tel op jou kop en begin vandag leef vir GOD, en almal om jou, want ons weet nooit wanneer dit te laat is nie.
N.S Buddy vul daai vorm in, dit is 'n kans waar jy GOD kan vereer by die werk.

Vrede vir jou my vriend ingeslote vind jy n sleutelhouer, dit was vir my kosbaar. Die Kruis.
Jesus het vir ons sondes gesterf. Die hart. GOD se liefde en genade is groot. Die klippie agterop. GOD is die Rots waarop ons bou.”

Maar nogsteeds het ek nie die grootheid van dit wat met my gebeur besef nie, miskien was ek te vasgevang in die omstandighede wat ek nie verstaan nie.

Ek is toe REHAB toe in 2007, met my aankoms wou ek sommer terug huistoe en vir die eerste keer het 'n traan oor my wang geloop, want om vir die eerste keer die realiteit te besef tussen al die stukkende mense, het ek vir Dr. Marx gevra om my terug te stuur huistoe, na my vrou en kinders toe, want dit is waar ek veilig voel, waarby die personeel van die REHAB my so mooi gehelp het sodat ek onafhanklik kon huistoe gaan. Die vriendlikste mense met so groot passie vir wat hulle doen, het vir my baie beteken en sal ek hulle altyd onthou die hele span en ek bedoel die hele span.

Na REHAB weer huistoe en in Maart 2007 was ons op vakansie in Pretoria, ek het eendag saam die kinders geswem en gesien dat die water iets vir my doen. In die vakansie moes ek ook 'n Dr. sien in Pretoria waarby hy vir my gesê het: “ou seun jy sal nooit weer loop nie“ en my gewys dat die uitslae op sy baie toetse bevestig dat daar baie skade in my rug is. My vrou het net begin huil en ek het vir die Dr. gese ek sal weer loop, al loop ek op my hande.

By die huis was dit moeilik, ek wat nooit kon stil sit nie, moes nou kyk hoe groei my gras en ek kon dit nie sny nie, sien hoe alles agteruit gaan en alles wat ek wou klaar maak, my droom by ons huis, staan doodstil.
Garage toe gery 'n dubbel garage wat ek self gebou het, wat nog nie klaar was nie, die naweek voor die ongeluk het ons die dak op gesit ,my tools uit gepak, lank daarna gestaar, dit weer terug gepak en dan weer op die stoep gaan sit.
'n Paar maande het verby gegaan en op n dag besef, so kan dit nie aangaan nie, want as jy iets van GOD vra moet jy jou kant bring en maak toe die volgende plan om Biokenetika en Fisio toe te gaan.

Wat ek altyd sal onthou: My vrou se bystand, omgee en liefde al was dit vir haar moeilik, want haar man is moeilik, sy het seer in haar hart en haar man verstaan nie, want sy aandag is net gerig op sy eie situasie.
My dogtertjie, vir haar liefde en omgee, dat sy al haar klas maaitjies opdrag gegee het om vir haar pa kaartjies te maak. Wat ek vandag nog het.
My seun, met sy woorde “pappa moet nie worry nie, eendag as die berge blou is sal pappa weer reg wees” As ek maar net vir hulle gese het, hoe ek dit waardeer en wat dit vir my beteken het.

Maar toe begin die pyn sy tol eis:
Pyn wat jy vir niemand kan beskryf nie, so erg dat jy die hele nag deur brul en kreun, so erg dat my vrou by die kinders gaan slaap, so erg dat ek begin om soos 'n oorlas te voel en die werk kwalik geneem het omdat hulle my pistool by die ongeluk gevat het, want niemand kan iets aan die pyn doen nie en niks help nie. Nou begin ek weer kla en vra HERE wat nog?
Toe begin die noodkreet na hulp, maar die duiwel het 'n groot oor en toe speel die duiwel sy troefkaart.

Koerant 3

Toe gaan kla die duiwel my weer aan, met die bedoeling dat as hy my gesin van my wegvat, dit wat vir Braam so belangrik is, dit waarvoor hy lewe, want die duiwel het geweet dat die omstandighede dit maklik gaan maak, met 'n bietjie hulp, die ou in sy pantoffels in foto 1 was so gaaf om hierdie gesin wat deur soveel trauma gaan by te staan al was dit eintlik vir sy eie gewin gewees, so dat ons geskei is vandag en duidelik het ek besef dat sekere hulp nie van die HERE afkom nie. Daarom is die duiwel 'n verwoester en GOD 'n regmaker. Nou voel dit vir my of al die storms op my neergedaal het, waar sal my hulp nou vandaan kom? Duidelik nie meer van mense af nie. In April 2008 is my pa oorlede, wat nog HERE?
Hoe swaar moet my kruis nog word?

Maar wat vir die mens onmoontlik is kan God moontlik maak: Lukas 18:27
By mense kry jy nie sommer 'n tweede kans nie, maar vat jou kans by GOD terwyl jy n kans het, vandag nog, want more is miskien te laat.

Op 2007-08-29 is ek bekeer en gesalf:
Vandag as ek so terugkyk oor my lewe, besef ek hoe die HERE my seën, as ek op sy wee struikel en my voete sukkel, dan gee die HERE my twee by, maar loop, loop ek, want ek gaan vorentoe, ek lewe vandag aan gister kan ek niks doen nie en more weet ek nie of dit nog 'n dag sal wees nie. Die HERE vergroot my grondgebied daagliks. Fillippense 4:13

Wat maak van jou n man?
Is dit jou spiere, is dit jou roekelose eie wil, jou eie sin so het ek gedink want jou vrou moet mos opkyk na jou, jy moet dan 'n man wees die groot beskermer. Ek het die punt gemis, weer soos baie kere tevore, NEE wat van jou 'n man maak is dit wat jy in jou hart is. Het julle al gesien as 'n ou rugby speel maar het nie hart nie, kan hy nie rugby speel nie. 'n Mens se hart moet mooi ook wees. Daar is mos nie rolstoele in die hemel nie, GOD wil ons hart hê, ons siel daarbinne.

Na al die dreigemente en beskuldigings staan ek vandag nog en lewe ek vandag nog en kan ek trots almal in die oë kyk. Ek was een van daai tipe mans wat nie hulp gevra het nie, maar glo my daar gaan 'n dag kom wat jy gaan, maar gaan vra die HERE en HY sal vir jou die regte hulp stuur. Moenie wag tot dit te laat is nie. Wat 'n mens ookal doen, maak nie saak of dit sleg is nie of hoe goed en mooi ookal dit voorkom nie, as dit jou gewete pla, doen jy in elk geval die verkeerde ding en as jy dit vir die duiwel doen, gaan jy in elk geval nie 'n gewete hê nie, want die duiwel het nie 'n gewete nie. Jy gaan mos nie vir 'n kind n klip gee as hy vir brood vra nie.
Die HERE gebruik mense in SY diens, so ook die duiwel - Vir watter span speel jy?
Wat van as die HERE eendag vra?
"My kind as ek die twee akteurs in die verhaal omgeruil het, wat sou jy gedoen
het ?

Ek dank GOD vir sy genade, liefde en genesing:
Ek bid dat JESUS se Naam op elke mens se hart gegrafeer sal wees en dat JESUS aan ons almal se harte sal werk, daarom glo ons in SY “eendag” as SY koningkryk kom en dat ons soos kinders voor SY voete op HOM sal vertrou.

Koerant 4

Ek bid en spreek lewe uit oor hierdie stukkie getuienis van GOD se grootheid, sodat dit baie mense sal bereik, wat na GOD se hulp vra. Mense in moeilike omstandighede, huwelike sal red, jongmense met die HERE se beginsels in hulle lewe sal help en hulle laat wegspring met 'n voorsprong.

Ek bid dat baie mense vir my en my gesin sal bid vir 'n “eenheid” en dat GOD se wil sal geskied, want ek weet elke traan, elke seerkry van die hart, elke onregverdigheid, elke valsheid, elke gebed, vang JESUS in SY hande op, vir die dag wat HY SY kinders kom haal.

AMEN
Esegiel 34:16 “ Jesus is die antwoord”

Ek is bly daar is nog opregte mense wat omgee en help, wat iemand soos ek opbou en nie afbreek nie, wat nie in die wêreld se sameloop vasgevang is nie, wat deur die Here gestuur is, al Jesus liefde wat julle verdien.

Besluite - watter een - dit waarmee ons daagliks worstel die maklike uitweg of die moeilike een, kyk die keuses wat al die groot Bybel figure moes maak vir geloof en wie het gesê dit gaan maklik wees?

Al wat ek altyd sal onthou is my vrou se mooi groen oë, die vensters van God in haar. Haar mooi hart, sag en nederig die twee mooi kinders wat sy vir ons in die wêreld gebring het, waarmee God ons geseën het.
Partymaal wens ek sy kon haar hand op my hart sit en voel hoe diep my liefde vir hulle is en dat dit nie oppervlakkig en aangeplak is nie en dat hulle eendag sal besef dat ek so lief is vir hulle dat ek bereid is om te sterf vir hulle, want ek is God se krygsman.

ouman met Bybel

Hoe moet ons voor die Here wees?
Miskien moet ons soos die ou man wees, met niks op die grond nie 'n saak met die sameloop van die wêreld nie.
Ek dink die ou man kan nie skryf of lees nie, maar hy het die lewende krag in sy hande, GOD se woord.
Is dit nie 'n les vir ons almal nie?

LUKAS 16:19-31

Braam van Noordwyk
Lees die artikel en gee jou mening
 

Kant Kaart