Skakel die geraas uit tussen jou en die Here.
Ek en ‘n vriend (wat die pastoor is van ons gemeente) het een oggend bietjie gaan koffie drink by ‘n bekende restaurant in ons dorp.
Dit was die eerste keer dat ons eintlik iets saam doen.
Ons het so bietjie oor alles gesels en onder andere oor my liefde vir motorfietse.
Ek het hom vertel dat ek en my vrou lief is om sommer net te toer met ons motorfiets om lekker rustig te ry en die natuur te waardeer vir wat dit is.
Dan het ek hom vertel van die ekstra goedjies wat ons op die motorfiets het om die rit bietjie meer gemaklik te maak. Soos ‘n GPS en ‘n kommunikasie stel en hoe die twee tegnologieë so lekker saam werk.
Hy het heel verbaas gelyk toe ek hom vertel van die kommunikasie stel tussen my en my vrou en hoe goed dit werk en dat dit ons selfs ‘n paar keer gehelp het dat ons nie in ernstige ongelukke was nie.
Wel kom ek vertel vir jou ook indien jy nie weet hoe die toestel werk nie.
Die oorfone is van ‘n spesiale luidspreker gemaak wat baie plat is en maklik in mens se helmet pas, maar ook die klank teen ‘n spesifieke frekwensie uitstuur sodat mens die klank duidelik deur die geraas van die helmet kan hoor.
Dan is die mikrofoon van die toestel eintlik twee mikrofone in een. Dit is twee mikrofone wat rug teen rug gemonteer is.
Wat dit doen is, die een weg van jou mond neem die geraas op in die helmet, die ander mikrofoon wat na jou mond wys, neem ook die geraas in die helmet op plus jou spraak, die sagteware van die toestel kan dan die geraas met geraas vergelyk dit dan uitkanseleer en net jou stem laat deur gaan.
So met die kombinasie kan mens mekaar baie duidelik hoor in ‘n raserige helmet.
Indien jy meer oor ‘n soortgelyk toestel wil oplees gaan na:
http://www.autocom.co.uk
Die volgende dag was ek in die kerk en het uitgegaan vir gebed.
Toe hy vir my bid, het hy onder andere vir my gesê dat my kommunikasie met God moet wees soos hierdie toestel van die motorfiets.
Ek het baie daaroor nagedink en het eintlik ‘n baie mooi boodskap daaruit gekry.
Jy sien, ons leef in hierdie wêreld wat vol misleiding, sonde en vyandskap met God leef. Dit stel al die geraas voor. Jou kop is in die helmet met die geraas.
Jy hou nie (altans ek) van die geraas waarin jy jou bevind nie en so is dit met ons Christene wat in die wêreld leef, ons hou nie van die wêreld wat in vyandskap met God leef nie, maar ons moet maar want ons tydelike tuiste is in hierdie wêreld.
Ons moet soos die toestel wees:
Die oorfone: Ons moet met ‘n spesiale frekwensie met God ingestel wees sodat ons Hom duidelik in hierdie “raserige” wêreld kan hoor.
Dit is om met Hom kwaliteit tyd te spandeer.
Die mikrofone: Ons moet ook soos twee mikrofone wees.
Ons moet wees soos die mikrofoon wat weg wys, so moet ons weet waar die misleiding (die geraas opneem) lê van hierdie wêreld. Ons moet genoeg kennis hê van die vyand (Satan). God het gesê, Sy volk gaan ten gronde as gevolg van ‘n gebrek aan kennis. (Jes 5:13)
Met die ander mikrofoon moet ons bid met die kennis wat ons dan nou het van die wêreld, sodat dit misleiding van die wêreld kan uitkanseleer en net jou rein gebed sal deurgaan na God.
Die wêreld is so vol sonde, as ons nie hierdie basiese beginsels toepas nie, sal ons baie maklik deur hierdie wêreld weg gesloer word en nie die stem van God duidelik hoor nie.
Willie Pietersen
Lees die artikel en gee jou mening