Header
 

Ek is ontydig gebore

Man

1Korintiërs 15:8 ...en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.

Daar is seker verskeie mense wat vandag ook voel dat ons op die verkeerde tyd gebore is.
Ons hoor velemaal die uitdrukking; “As ek tog maar destyds geweet het wat ek vandag weet, dan sou ek gans anders my paadjie geloop het.”

Kom ons ondersoek bietjie Paulus, die ontydig gebore mens, se ervaring en dan kan ons dalk ‘n beter begrip kry hoekom van ons ook voel dat ons dalkies ontydig gebore kan wees. Luister:
Handelinge 9:4 - 7 en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?
En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.
En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.
En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie.

Wat sal ons doen as ons vandag ‘n stem uit die hemel hoor wat sê: Byvoorbeeld: “Hansie, Hansie waarom vervolg jy my?”
Ons trek so maklik ons skouertjies op en pleit bewusteloos. “Ek vervolg nie vir Jesus nie, waar kom jy daaraan?”
Maar het u al ooit gaan sit en mooi gedink;
“Grens my optredes teenoor God en sy gebod nie dalk daaraan dat ons besig is om Hom te vervolg nie?” Ons moet goed besef dat wanneer ons nie vir God is nie ons teen Hom is. Hoor wat sê die Woord:

Markus 9:40 want wie nie teen ons is nie, is vir ons.
Matteus 6:24 Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!

Of anders gestel; wie teen ons is, is nie vir ons nie. Ons mense het verleer om op te staan vir Christus. So asof ons begin skaam word vir Hom.
Dit is so asof die wêreld ons begin ontsenu met al hulle uitsprake. In Brittanje is baie besig om hulle te “ontdoop.” Die Muslim geloof is ook besig om hand oor hand toe te neem.
Hoekom? Omdat ons nie meer kans sien om op te staan vir Jesus nie. Ons beskou onsself as ontydig gebore Net ‘n kort gebeurtenis wat in die einste Brittanje afgespeel het.

Allah of Jesus Christus? John McCarthy (nie sy regte naam nie) wat sy paroolvoorwaardes moes nakom, het ‘n opleidingsessie in die tronk bygewoon.
Gedurende die sessie het daar drie sprekers opgetree. ‘n Rooms Katoliek, ‘n Protestant en ‘n Muslim en elkeen het ‘n kans gekry om sy geloof te verduidelik.
John McCarthy was besonder geinteresserd in wat die Islamitiese Imam te sê het.
Die Imam het ‘n volledige uiteensetting gegee, breedvoerig met video en al.
Na die aanbieding was daar tyd vir vrae en antwoorde.
Toe dit John McCarthy se beurt was, het hy ‘n direkte vraag aan die Imam gestel: “Asseblief help my as ek verkeerd is, maar ek verstaan dat dat die meeste Imams en geestelikes van Islam ‘n heilige oorlog (Jihad) verklaar het teen die ongelowiges van hierdie wêreld en dat deur die doodmaak van ‘n ongelowige (wat terloops ‘n opdrag is aan alle Moslems) hulle verseker is van ‘n plek in die hemel.”
Hy het voortgegaan: “As dit so is, gee my asseblief ‘n definisie van ‘n ongelowige.”
Daar was geen onenigheid oor John McCarthy se stelling nie en sonder aarseling het die Imam geantwoord: “Non-believers!” Mense wat nie glo nie.

Die persoon het voortgegaan: “So, laat my net baie seker maak dat ek reg verstaan. Alle volgelinge van Allah is beveel om alle mense wat nie van u geloof is nie uit te wis sodat hulle ‘n plek in die hemel kan kry. Is dit korrek?”
Die uitdrukking op die Imam se gesig het verander van gesag en beheersing na die van ‘n seuntjie wat so pas betrap is met sy handjie in die cookie jar.”
Skaapagtig het die Imam geantwoord: “Ja!.”
Die persoon het voortgegaan: “ Ek het regtig ‘n probleem. Ek kan my nie indink dat Pous Benedict ‘n bevel gee aan alle Katolieke om mense van u geloof dood te maak of dat Dr Stanley alle Protestante beveel om dieselfde te doen nie net om vir hulle ‘n plek in die hemel te verseker nie.”
Die Imam was sprakeloos. Die persoon het voortgegaan: “ Ek het eweneens ‘n probleem daarmee om u sogenaamde ‘vriend’ te wees terwyl u en u geestelike broers u volgelinge aanspoor om my dood te maak.”
“Laat my toe om u ‘n vraag te vra.”
“Wat verkies u? Allah, wat u vertel om my dood te maak sodat u vir uself ‘n plek in die hemel kan verseker of my Jesus wat vir my vertel om u lief te hê omdat ek hemel toe gaan en beste van alles Hy, onse Jesus wil u ook daar saam met my hê?”
Jy kon ‘n speld hoor val terwyl die Imam spraakloos was.
Natuurlik was die organiseerders en die wat diversifikasie(Verskeidenheid, verandering) opleiding/seminaar bevorder het nie so gelukkig met die wyse waarop John McCarthy die Islamitiese Imam hanteer het nie en ook die waarheid van die Moslemgeloof openbaar het nie.

Nou kom ons terug na hierdie ontydig gebore mens se kwelling. Wie van ons is bereid om so op te staan vir ons geloof?
Anders gestel; wie van ons vervolg nie vir Jesus deur maar altyd Jannie Jammergat te wees nie. Ons moet polities korrek wees, want wat sal die mense sê? Sal ek nie dalk as ‘n rassis uitgekryt word nie?

“Kosie, Jannie, Marie……., waarom vervolg jy my? Kan dit wees dat Paulus hier redeneer dat hy eintlik maar ‘n aborsie moes gewees het. Kyk na die Woord:
Job 3:16 Of ek sou, soos ‘n weggestopte misgeboorte, nie bestaan het nie, soos kinders wat die lig nie gesien het nie.

Ons reken stellig dat Paulus hier veronderstel dat hy ontydig gebore is of voor sy tyd gebore is en nie deel van die apostels behoort te wees nie.
Paulus het dalk gereken dat hy te laat was om Jesus te sien in die lig van ‘n apostel eerder as in die lig van ‘n vervolger van Jesus Christus.
Ag hoe vreeslik sal dit nie wees eendag as ons moet agterkom ons het Jesus vervolg in plaas daarvan dat ons hom navolg.

Dit noop ons om uit te roep: Maak seker u is ‘n navolger en nie ‘n vervolger van Jesus nie.

U het reeds eerstehands ondervind hoe maklik dit is om ‘n vervolger van Jesus te wees. Onwetend doen ons die vervolging van Jesus in hierdie wêreld. Onthou Paulus het ook eers gedink hy doen goed, die regte ding. Kyk mooi:
Act 8:3 Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.

Net so dink ons mos ook dat ons die “REGTE” ding doen. Kyk weer na die storie van die Islam priester hierbo. Natuurlik dink Islam hulle is die ware navolgers van hulle Allah, net soos ons dink ons is die ware navolgers van ons Jesus Christus.
Die vraag is; “Is Ons?”
Ek glo dit vir geen oomblik nie. Kyk maar hoe fanaties is ons mens teenoor mekaar. Ons sal mekaar se lewens verwoes, ons haat mekaar, skaamteloos en dan noem ons ons navolgers van Jesus?

“ Hansie, Hansie waarom vervolg jy my ? “

Dr Isak Burger skryf in sy boekie; “Die Laaste 5 Minute Voor Die Dood,” iets aangrypends.
Ons het die woorde bietjie gewysig om in te pas by ons dagstukkie.

Hy skryf:
Ons glo die Here wil hê ons moet seker maak dat wanneer ons sterf, selfs “ontydig” ons families nie oor ons hoef te wonder en wroeg nie.
Deur ons lewens aan Hom oor te gee en tot Sy eer te lewe, kan ons vir ons naasbestaandes daardie stuk vrede en hoop nalaat dat ons mekaar eendag weer gaan sien.
Ons het dit so vele kere waargeneem. Mense voel verskrik en bang by ‘n begrafnis wanneer hulle nie seker is of die oorledene ooit by Jesus uitgekom het. Of hy/haar lewe reg was om te gaan.

Aan die anderkant is daar soveel vreugde in die agtergeblewenes se gemoed wanneer hulle tog maar net kan sê: “Mamma het met ‘n glimlag op haar gesig gesterf. So in vrede.”
Dit is so ‘n vertroosting om maar net te kan weet, mamma is vandag by Jesus.

Op my dogter, Vicki se begrafnis het hierdie tekse by my opgekom:
2Kor 5:1 Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.

Joh 12:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.

“Ek is vandag in die hemel en ek wil nêrens anders wees nie.”

 

Gerrie van Zyl
Lees die artikel en gee jou mening
 

Kant Kaart