![]() |
|||
“God is dood!” – Friedrich Nietzsche
|
|||
![]() |
Image From Google
|
Mat 4:17 Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom
Aanhalings uit Dr Isak Burger se boek:
”Die laaste 5 minute voor die dood”
In kort, Friedrich Nietzsche was, met die klem op “was” (Onse God is) ‘n bekende Duitse filosoof. Hy was die mees uitdagende en prominentste Godverwerper van sy tyd.
Hy was die man wat die bekende “God is dood”-stelling gemaak het. Hy het hierdie woorde as graffiti op ‘n muur in Oostenryk geskryf.
Nodeloos om te sê dat hy as waansinnige gesterf het. Iemand het so geskryf: Nietzsche is in geestelike duisternis dood, ‘n kletsende, babbelende kranksinnige. Net daarna het iemand reg onder sy “God is dood – Nietzsche”-graffiti op die muur, die volgende woorde geskryf:
“Nietzsche is dood – God.”
Hier is ‘n klompie aanhalings van die uwe wat ‘n mens se hare laat rys.
Op Donderdag 30 April 2009 sit ek op die bed in my binnekamer. Ek het sopas die Woord gelees uit 1 Samuel 18 en 19. Dit handel juis oor Saul en Dawid en Jonathan. Klaar gebid, val my oog op die boekie van Dr Isak Burger (Pye Blumenthal se boekie wat ek die vorige dag tuis vergeet het om vir haar te gee).
Ek lees in hoofstuk 4 waar Dr Burger skryf: “‘n Magtige man neem sy eie lewe.” Dit gaan daaroor hoe Koning Saul noodgedwonge in sy swaard moes val. Toeval? Nee! ‘n Goddelike vingerwysing?"
En dan skryf Dr Burger voorts en dit roer my so:
“Toe die Filistyne weer eendag teen hom optrek, het hy die Here tevergeefs gesoek. Daar was geen droom, geen profetiese woord nie. Die hemel het brons geword. Daar is min dinge erger as wanneer die hemel stil raak.”
Ek wil graag die laaste sin in duidelike leesbare skrif herhaal:
DAAR IS MIN DINGE ERGER AS WANNEER DIE HEMEL STIL RAAK!
Ek val op my knieë neer en bid in allererns tot God, want sien net effens vorentoe in dieselfde boekie, skryf Dr Burger dat daar nagenoeg net in Suid-Afrika alleen 55 000 babas jaarliks geaboteer, nee vermoor word. Dit beteken dus dat oor die afgelope 15 jaar daar nagenoeg 825 000 mensies vermoor is. Tel daarby nagenoeg 300 000 moorde weens die afskaffing van die doodstraf plus 200 000 aan padsterftes weens swak paaie en swak wetstoepassing, 200 000 weens gesondheidsorg wat in duie gestort het en o ja 300 000 VIGS gevalle weens onge-ergdheid en ontkenning en knoffel en beet. Dan praat ons maklik van 1.5 miljoen mense. Die wêreld skreeu bloumoord en praat met afgryse van die menseslagting/bloedbad in Ruanda waar ‘n geskatte 1 000 000 mense op 6 April nogal 1994 dood is.
En wie is hiervoor verantwoordelik, ja kom ons spel dit uit. ‘n Mensereg-behepte Grondwet en Regering van die dag. Dieselfde regering wat kort van tevore op 22 April weereens oorweldigend ingestem is met bykans ‘n tweederde meerderheid.
Ons skreeu ons hees oor die robwelpies wat so wreed doodgeslaan word langs ons en Namibië se kuslyn, maar is tjoepstil wanneer mensies wat na God se beeld geskape is, die weerloosstes in die samelewing, deur ‘n perverse geslag en ongoddelike wetgewing vermoor word, aldus Dr Burger.
Kyk hoe word dit op ons strate adverteer:
MAAR DAAR IS ‘N GOD IN DIE HEMEL!
My hart klop onstuimig in my binneste en ek vrees die dag van God se oordeel Die Woord is onverbiddelik. Luister:
Isa 26:21 Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie.
Elke druppel bloed van elke onskuldige kindjie/babatjie, elke fetus wat geaboteer is, sal op daardie dag tot die Skepper en Gewer van alle lewe roep om wraak. So, Regering van die dag wat met groot fanfare, soos die Woord sê:
Psalm 98:6 met trompette en basuingeklank! aan bewind gekom het, wees gewaarsku.God slaap nie al skryf Friedrich Nietzsche ook wat op die mure van die hel.
Is God dan rêrig dood of is ons aan die doodgaan.? Is dit nie dalk so nie dat ons God totaal uit ons lewens verban, uitgeskuif het nie? Ons moet onthou dat God Hom nooit ooit aan ons opdring nie.
Nee, ons mense soek ‘n “voor-op-die-wa” God wat ons lewens totaal oorheers en elke en iedere gebed van ons verhoor hoe fataal dit dalk ook mag wees indien Hy dit sou verhoor het. Ons soek publisiteit, fanfare vir onsself en ons kerke. Ons wil graag sien in die media hoe ‘n beroemde prediker gebid het en iemand wat dalk 38 jaar lank bedlêend was, word onmiddellik genees. Laat ons dink aan die teksvers uit die Woord:
Act 3:6 Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!
Net ‘n kort verhaaltjie. ‘n Katolieke priester het eendag na ‘n groot diens die kollekte van die gemeente in die kantoor van sy kerk getel toe ‘n sekere dokter instap. Die priester merk toe op: “Ja broer, gelukkig is die dae verby dat ons kan sê; goud en silwer het ons nie waarop die dokter opmerk: ja en ook die dae is verby waarop jy kan sê: staan op en loop.”
God is nie dood nie. Dit is ons wat geestelik dood is. Kyk maar na ons kerkbywoning. Net die wat nog êrens ‘n vrees vir die onbekende hiernamaals het, doen die moeite om tog maar my gesig te wys in die dienste. En dan is daar diegene wat net gesien wil wees. Ja daar sal ook eenmaal ‘n 5 minute voor die dood en onvermydelik ‘n 5 minute na die dood vir ons aanbreek, veral daardie 5 minute na die dood, want dan is dit verewig te laat.
Matteus 25:12 Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.
Ons kry onder hulle wat ander besteel deur te leen om nooit weer terug te gee nie, wat ander met valse voorwendselsel vertrap in die grond, ja hulle wat openlik lieg om hulleself te bevoordeel.
Ook hulle wat die armes en die wese en weduwees in die grond boor. Onthou ons vertrap dalk die “uitverkorenes” van God. Ag die Woord is so kosbaar:
Lukas 18:7 - 8 Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?
Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
God is nie dood nie. Vir hulle wat Hom nie ken nie is God natuurlik dood. Daardie godsalige ontmoeting met Hom in jou binnekamer en elders ontbreek net. Hoe dan anders. Ons is mos net mooivriende of liewers mooiweerskinders van God solank dit goedgaan en ons ons pense kan voleet.
Dan klink die woorde soos ‘n refrein op: maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
Ag en my hart is ook vandag brandend in my wanneer die volgende woorde weerklink:
Luk 6:46 En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?