Header
 

Geweeg en te lig bevind

Mené, mené, tekél ufarsín

Dan 5:25 - 28 En dit is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené, tekél ufarsín.
Dit is die uitleg van die woord: Mené — God het u koningskap getel en daar ‘n einde aan gemaak;
tekél — u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind;
perés — u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.

Aanhalings uit Dr Isak Burger se boekie: Die laaste 5 minute voor die dood:

Mat 7:13 -14 Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

"Caesar(Cesare)Borgia, ‘n staatsman, het aan die einde van sy aardse bestaan gesê wat so baie van ons dalk ook eendag 5 minute voor ons dood gaan sê:
“I have made provision for everything during my lifetime – only not for death; and now I must die totally unprepared.”"

Wanneer ons so louwarm is in ons Godsdiens moet ons verstaan dat ons eintlik maar God totaal onteer, eintlik vir Hom ‘n las is.
Ag dit ruk my aan die hart wanneer God sonder omhaal van woorde so duidelik sê” “EK KEN JOU WERKE!!!” Die Woord is onverbiddelik:

Openbaring 3:15 - 16 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!
Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.

Eintlik kan ons maar sê dat ons geweeg gaan word en te lig bevind kan word. Gaan ons waaragtig daardie kans wag tot 5 minute voor ons dood?
EK GAAN NIE! HERE HOOR MY SMEEKGEBED VANDAG. RED MY TERWYL DAAR NOG ‘N KANS IS.

Bélsasar, koning van Babilon, het daardie kans gevat en toe gaan sy genadetyd by hom verby terwyl hy in dronkenskap gefuif het en ‘n traak-my-nie-agtige houding openbaar het soos baie van ons ook vandag.
Vra maar vir iemand om slegs ‘n ou klein dingetjie in die kerk te verrig en jy hoor ‘n stortvloed van verskonings. Is dit warm wees vir God? Nee “lukewarm” soos die Ingelse sê.

Hoe onverantwoordelik kan ‘n mens tog wees?
Ag as ons, wie se saak met God nie reg is nie, tog maar vroegtydig kon weet wanneer ons laaste dag gaan aanbreek sodat ons betyds na Hom kan gaan.
Net soos Bélsasar ignoreer so baie van ons mense, in die hart van eie geliefde gemeentetjie in Hennenman AGS ook blindelings die tekens dat die einde vinnig nader kom. Daardie losbandigheid, daardie “don’t care” - houding is so duidelik sigbaar in ons eie ou kerkie. Ons vier die fees van die lewe, terwyl die dood net hier buite wag.

Onwillekeurig wonder ‘n mens hoeveel mense vandag onder die invloed van sterk drank sterf? Hoe sotlik kan ons mense tog wees om jou in sulke kritieke tye, met die dood wat buite jou poorte lê en wag, aan sterk drank oor te gee?
Wat ‘n toestand om jou Skepper in tegemoet te gaan?
Dit is uiters gevaarlik om met die heilige dinge van God (soos Sy heilige kerk) te speel of te spot. Daar gaan ‘n uur kom, ook vir ons wat so louwarm is dat God gaan besluit: Tot hier toe en nie verder nie!
Ons moet tog so in ons pasoppens wees. Dit lyk amper of daar “a point of no return” kan wees soos vir die rykman van Lukas 12:20.
Soos ook maar vir ons het hy gefloreer sonder God, totdat God die streep getrek het. Luister:
Luk 12:20 Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?

Toe Genrikh Yagoda, voorheen ‘n hoof van die Russiese KGB, die dood in die gesig staar met pyn en sielewroeging, het hy gesê: “Daar moet ‘n God wees! Hy is besig om my te straf vir my sonde!”
Onthou God se genade is groot en vir Belsasar was daar ook genadetyd, maar hoor die Woord:
Gal 6:7 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

Ons ou mensies is tog so vol planne, ja daardie planne waarvan God nooit deel is nie. Die skadu van die dood laat ‘n mens egter vinnig ons lewensprioriteite hersien. Die groot probleem is egter dat die doodsengel so skielik so onverwags sy opwagting maak sodat daar nie kans is om reg te maak dit wat verkeerd is in ons lewens nie.

Vir Belsasar was die vinger wat teen die muur skrywe ‘n Godsopenbaring wat hy nooit te wagte was nie, wat nie op sy beplanning, sy agenda was nie.
Hierdie hand wat op die muur skrywe, het niks goeds ingehou vir Belsasar nie. En dan skrywe die hand stadig op die muur: “Méne, méne tekél  ufasín"
Ek sidder as ek net die betekenis van die woord “tekél” hoor. Jy is geweeg en te lig bevind. Dit maal in my kop; het God my dalk geweeg en te lig bevind vir Sy Koninkryk? Dit kan mos nie wees nie Here.

Wanneer ek dan so groot skrik, weet ek nie wat ‘n uiterste godloënaar gaan doen nie, want voor hierdie God sal ons eendag verskyn. Hoor wat sê die Woord:
Openbaring 20:11  En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.
Openbaring 20:12 - 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.

Die vader van sosialisme en kommunisme, Karl Marx, was met sy dood in wanhoop vasgevang.
Hy skryf aan ‘n vriend van hom: “How pointless and empty life is.”

Is jou lewe vandag sinneloos, betekeloos? Dan moet u soos ek ook begin besef dat ons op gevaarlike terreine beweeg.
God het aan elkeen van ons ‘n gewete gegee. Ek wonder as ons skielik so ‘n gesig soos Belsasar moet sien of ons gewete ons gaan aankla of vryspreek. Hoor hier:
Rom 2:15 omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig.

En pasop vir ‘n gewete wat onderdruk of versmoor word. Ons is so geneig om die stem van God te probeer wegredeneer, wegjaag, wegwerk, wegdink of selfs wegdrink, maar net op ‘n dag gebeur daar iets soos die skrif aan die muur.
‘n Mens is net nie gebore instaat om jou gewete vir ewig stil te maak nie, want dit is deel van ons gees wat God in ons geplaas het.

Pas ook op dat God nie ons gewete en ons gedagtes op ons los laat nie of ons in ‘n hoek vaskeer nie. Wanneer ons gewete ons begin terroriseer, dryf dit mense teen die mure uit.
Ons sê weer: Om sonder God te lewe is een ding, maar om sonder God te sterwe is ‘n gans ander ding. Die slegte ding van dit alles is dat genade vrylik beskikbaar was, dat dit vir ons aangebied was, dat God Sy hand na ons uitgesteek en ons dit nie wou aanvaar nie.

Onthou NIKS op aarde kan vir ‘n slegte gewete vrede bring nie.
Moenie te lank wag my liewe vriende.
Moenie te ver gaan nie. Die dwaas sê in sy hart : "Daar is geen God nie."
Moenie onverhoeds betrap word nie.

Gerrie van Zyl
Lees die artikel en gee jou mening
 

Kant Kaart