Header
 

Elkeen het ‘n taak op aarde.
Aanvaar dit net.

-Eick Warren
Grafsteen

Ons hoofdoel in hierdie lewe is om ander te help, maar wanneer ons nie kan help nie, is die minste wat ons kan doen om hulle nie seer te maak nie.

Johannes 17:4  Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.

God het ons op aarde geplaas om ‘n bydrae te lewer. Ons is nie net maar hier om suurstofdiewe te wees, om ons mae vol te eet en om plekke vol te sit/staan/lê nie
God het ons elkeen so mooi gemaak om ten minste ‘n verskil te maak met ons lewens, elkeen van ons, nie net sommiges nie.
Hoor hier: Ons is geskape om ‘n bydrae te lewer tot die lewe op aarde en nie net daaruit te neem nie. God wil hê ons moet teruggee, inploeg.KOM ONS LEEF ONS BEDIENING/ROEPING UIT!

Efesiërs 2:10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Hierdie “goeie werke” is ons bediening. Wanneer ons ander help/dien dan dien ons inderwaarheid vir God self en dan vervul ons maar een van ons lewensdoelwitte hoekom ons hier is. DIT IS VERSKRIKLIK OM DOELLOOS/NUTTELOOS OP HIERDIE OU AARDE TE WEES. (Vra maar vir ons ou afgetrede mense)
En dit is so onteenseglik waar wat God vir Jeremia vertel het. Dit was een van die redes hoekom God Jeremia geskape het. Luister:

Jeremia 1:5  Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak.

Onthou, ons verdien nie om op hierdie aarde te wees nie. God het ons vrygekoop met Jesus se bloed om Sy heilige werk hier op aarde te doen. Ons is nie gered deur ons diens aan ander nie, maar vir diens aan ander. Luister wat sê die Woord :

2Timoteus 1:9  wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is,

In God se koninkryk het elkeen van ons ‘n plekkie, ‘n lewensdoelwit, ‘n rol om te speel en ‘n bediening. DIT GEE AAN ONS LEWENS GROOT BETEKENIS EN WAARDE.
Onthou: Dit het Jesus Christus Sy eie lewe gekos om ons te red van die sondemag. Die Bybel herinner ons aan hierdie feit :

1Korintiërs 6:20  Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

Ons dien God nie uit ‘n skuldgevoel nie of uit vrees of selfs uit pligsgevoel nie, maar met volkome blydskap en diepe dankbaarheid vir dit wat Hy vir ons gedoen het.
ONS SKULD HOM ONS LEWENS
Met ons redding/verlossing is ons vuil verlede uitgewis, kry ons teenwoordige lewe betekenis en is ons toekoms verseker. In die lig van hierdie ongelooflike voordele sluit Paulus aan deur te sê:

Romeine 12:1  Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.

Onthou wat die apostel Johannes ons geleer het. Diens wat ons uit liefde aan ander gegee het, bewys dat ons ten volle gered is: Hoor:

1Johannes 3:14  Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.

Wanneer ons geen liefde vir ander het nie, geen begeerte het om ander te dien nie en ons slegs begaan is oor ons eie belange/sake, moet ons vir onsself afvra of Christus werklik in ons lewens is. ‘N VOLKOME VERLOSTE HART SMAG OM TE DIEN.
‘n Ander saak wat so dikwels verkeerd verstaan word is “bedieninge.” Dit is nie net vir pastore, dominees, prieters nie, o nee, God sê elke lid van Sy familie is ‘n predikant.
In die Bybel is die woord bediende/dienskneg en prediker dieselfde net soos diens en bediening. Wanneer ons christene is, is ons predikers en wanneer ons dien, bedien ons eintlik.
Herinner ons aan toe Petrus se skoonmoeder dodelik siek was aan die koors. Jesus het haar gesond gemaak en sommer dadelik het sy haar gawe om gesond te word gebruik en hulle bedien. Hoor:

Matteus 8:15  En Hy het haar hand aangeraak, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en hulle bedien.

Dit is presies wat ons ook moet doen. Ons is heel gemaak, gesond gemaak, geseënd om ander te dien, te seën. ONS IS GERED SODAT ONS KAN DIEN EN NIE NET TE SIT EN WAG OM HEMEL TOE TE GAAN NIE.
Het dit al ooit by ons opgekom dat wanneer ons ons lewe volkome aan God oorgee Hy ons nie sommer dadelik hemel toe vat nie. Hoekom los Hy ons in hierdie gebroke wêreld met sy misdaad, moordadigheid, liefdeloosheid, korrupsie en oorloggeteistering? Ja, Hy los ons hier om Sy doel te volbring.
Sodra ons gered word, is dit God se voorneme/doel om ons te gebruik vir Sy doel, nie ons s’n nie. God het ‘n bediening vir ons in Sy kerk en ‘n opdrag vir ons in hierdie wêreld. Luister:

Mat 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Laat ons nou opgroei en nie soos babatjies van melk leef nie. Ons mag dink dat om deur God geroep te wees iets is wat net sendelinge, pastore, dominees, nonne en ander voltydse arbeiders in die veld ondervind. Nee hoor wat sê die Woord:

Romeine 1:6-7  onder wie julle ook is, geroepenes van Jesus Christus aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!
Dit is so teenstrydig om te praat van ‘n christen wat nie diens doen in die akker van die Here nie. Hoor wat vertel die Woord ons:

2Timoteus 1:9  wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is,

Elke en iedere keer wat ons ons God-gegewe vermoëns gebruik, vervul ons ons roeping, ons bediening. Ons kan dit nie beter stel as die Woord self nie:

1Petrus 2:9  Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,
Rome7:4  So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus, om aan ‘n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra.

In sommige christen kerke in China, verwelkom hulle nuwe gelowiges deur te sê: “Jesus het nou ‘n nuwe paar oë om mee tesien, nuwe ore om te luister, nuwe hande om mee te help en ‘n nuwe hart om ander lief te hê.
Een van die groot redes hoekom ons aan ‘n kerkfamilie op aarde verbonde moet wees, is om op praktiese wyse ons roeping om ander te dien te kan vervul.

1Kor 12:27  Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.

Onthou: Ons onbaatsugtige diens word wanhopig/desperaat benodig in die liggaam van Christus, vra maar vir jou eie gemeente. HULLE HET JOU VREESLIK NODIG OM DIENS TE VERRIG.
Elkeen van ons het ‘n rol om te speel en elke rol is baie belangrik. Daar is nie so iets soos ‘n ou klein rolletjie vir God nie, alle rolle is belangrik.
In ons eie kerke is daar ook te veel toeskouers terwyl die liggaam doodgaan.
Daar is ‘n ou vergelyking tussen die see van Galilea en die Dooie see. Dit is so waar. Die Galilea is ‘n meer vol lewe omdat dit water inneem, maar dit ook laat uitvloei. In teenstelling daarmee lewe niks in die Dooie see nie omdat daar nie ‘n uitvloei is nie en dit gestagneer het.
Moenie nog ‘n Bybelstudie bywoon nie. Ons weet reeds veel meer as wat ons ooit nodig sal kry om dit in die praktyk uit te leef. Wat ons nodig het is ondervinding in dienslewering sodat ons ons geestelike spiere kan oefen.
Aan die einde van ons lewens op aarde, sal ons voor God staan en Hy sal oordeel hoe goed ons ander met ons Godgegewe lewe gedien het. Luister:

Rom 14:12  So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.

Hoe hol sal ons ou aardse verskonings dan nie klink nie. “Hulle skinder te veel van my” “Vat jou kerk en druk dit.” »Ek is te sieklik, my niere keil my op. » Dan sal God vra: “Watter deel van diens verstaan jy nie?” Luister mooi:

Romans 2:8 But he will show how angry and furious he can be with every selfish person who rejects the truth and wants to do evil.

WOW!!!!!!

Gerrie van Zyl
Lees die artikel en gee jou mening
 

Kant Kaart