“Here, ek wil asseblief graag twee vriende hê.”
Ek het 'n oorplasing gekry na 'n nuwe dorp.
Die plek waarvan ons vandaan kom het ons, ons familie en vriende agtergelaat.
As mens so bietjie alleen gevoel het of net bietjie wou uitkom, het ons net die telefoon opgetel en 'n vriend, vriendin of familielid geskakel en gaan kuier.
Ware vriendskap is baie belangrik, want... wel ek dink nie ek hoef eers te sê hoekom nie, omrede daar al so baie epos'e, sms'e en litteratuur is oor wat ware vriendskap is en beteken.
Self Jesus Christus het familie en vriende gehad toe Hy nog op die aarde was, inteendeel Hy het baie vriende gehad. Sy 12 Dissipels was seker sy grootste vriende.
Ons bly nou al 5 maande in die nuwe dorp en het nog nie regtig vriende nie.
Dit is seker maklik om 'n vriend te kry as jy die regte bar gaan soek en elke aand daar uithang, maar is dit waar ons Christene moet wees?
Die wêreld praat van kuier. Hoe meer hulle drink hoe lekkerder kuier hulle.
Dus hoe meer jy drink hoe meer vriede het jy. (mmm...)
Wel in 'n mate kan dit seker so wees... altans op die funksies waar ek al was kuier die mense nogals lekker saam so met die bier in die hand. En die ouens (soos ek) wat nie drink nie word nie juis regtig deel van die vriende kring nie alhoewel hulle met jou sal gesels en probeer gemaklik voel, is jy maar net nie hulle ware pel nie. Hulle sal jou ook nie weer sommer nooi na 'n braai toe of iets nie (nie dat mens in elk geval daar wil wees nie).
Dan lyk dit of almal maar drink om maar net 'n “vriend” te hê.
Nou ja, laat ek terug kom na my storie toe. Toe ek alleen so in die Mall loop in hierdie nuwe dorp waarheen ons getrek het, het ek net weer die begeerte gehad vir 'n vriend
en alhoewel daar duisende mense om my was, was ek eintlik so alleen.
Ek het gedink dat ek na my beste vriend op daardie staduim moes gaan en hom moes vra vir vriende en Sy Naam is Jesus Christus.
Ek het die volgende vir Hom gevra:
“Here Jesus, alhoewel U my beste vriend is wil ek graag ook vriende op hierdie aarde/stad hê. Mense wat met my kan gesels en kan vashou wanneer dit nodig mag wees.
Here, gee my tog twee ware vriende wat nie werksverband is nie, asseblief.
Die een moet 'n geestelike vader vir my wees. Een met wie ek kan gesels oor U
Die persoon moet my leiding kan gee sodat ek op U pad kan bly.
Dit moet nie 'n dominee of pastoor of enige prediker wees nie, dit moet 'n ware, gees vervulde kind van U wees Here.
Dit moet iemand wees wat my kan ondersteun met woorde en ligaamlike taal.
Dit moet iemand wees wat U baie lief het Here, en hy moet ook baie lief wees vir my en ek vir hom. Dit moet iemand wees wat 'werklik' in my doen en late belangstel. Dit moet iemand wees by wie ek nie bang is om te huil nie en my hart oop te maak nie. Hy moet ook nie vir almal vertel dat ek 'gehuil' het nie. Hy moet 'n wyse persoon wees, waarin hy my raad vir my probleme en hartseer kan gee. Die persoon moet iemand wees saam wie ek kan bid, later my vrou en kinders ook.
Hy moet my gereeld aan U in sy persoonlike gebede opdra.
Here ek wil graag hê hy moet 'n man wees en heelwat ouer as ek en dit sal goed wees as hy getroud is.
Dan Here...
Die ander persoon moet ook 'n man wees, baie my ouderdom. Hy kan maar 'n dominee of pastoor wees. Hy moet ook iemand wees wat U baie lief het.
Die volgende eienskappe moet egter daar wees:
Ons moet sommer saam lekker laf kan wees, net lekker oor alle rande goed kan gesels.
Ons belangstellings en stokperdjies moet min of meer dieselfde wees.
Ons moet sommer lekker lawwe grappe kan maak en met mekaar op 'n mooi manier, die gek kan skeer. Hy moet my beste pel wees en ek syne.
Ons moet saam dinge kan doen... sommer alles. Ons moet nooit lelik met mekaar wees nie. Ons moet mekaar ook kan bystaan in moeilike tye. Ons moet vir mekaar kan bid.
Here, dit sal goed wees as hy getroud is sodat sy vrou en my vrou ook besonder goed oor die weg kan kom en dat hulle ook lief vir mekaar sal wees.
Sodat hulle mekaar kan besig hou as ek en my vriend bymekaar is.
Here, dan het ek nog 'n versoek in die gebed en dit is:
Dat U vir my vrou weer die twee vriendinne sal gee wat ek graag wil he in my vriend. Verpersoonlik haar vriendinne net weer soos sy dit graag sou wou he.
AMEN.”
Na my gebed het ek gewonder waar sal ek nou vir hulle gaan soek?
Want in vandag se tyd is dit nie meer maklik om sulke vriende te kry waarvoor ek gebid het nie.
Dit moet seker in 'n kerk wees, alhoewel buiten dat die tradisionele kerk al vir my soos 'n vloek woord is, is dit gewoonlik nie mense wat met jou vriende wil wees nie, altans nie dit waarvoor ek gebid het nie. Hulle is wel goed om mee te kan gesels oor die week se gebeure en of sommer net bolangs te kan gesels.
Ek weet die Here weet dat mens nie sulke vriende by kerke kry nie.
Dan weet ek weer dat ek op Hom moet wag dat Hy ons vriende by my en my vrou kan uitkry.
In my hart het ek die liedjie gesing van: “Wat 'n vriend het ons in Jesus”
Willie Pietersen
Lees die artikel en gee jou mening