Header
 

Hartseer (2)

Weet u, God het belowe dat daar ‘n einde gaan kom aan alle hartseer, aan alle verdriet, alle trane, die dood en dat ons nooit weer sal huil nie. Kom ons kyk eerder vandag waar ons liewer goed kan doen en geniet dit wat die Liewe Vader vir ons gee. Iemand stuur my ‘n video opname van ‘n man wat sonder arms gebore is, maar hy het die onmoontlike vermag. Hy speel vandag die kitaar met sy tone, drukke inkluis en hy sing die liedjie: “Let it be.” So mooi… Kom ons lees die Woord:

Openbaring 21:4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.

HOE VOEL U OOR MENSE MET GEBREKE?

En in die hemel sal ons feesvier. Ons gaan nie meer hierdie ou aarde se verdriet ervaar nie. Op aarde sal julle verdrukking hê. En weet u dit is so tragies, dit is jou eie honde wat die seerste byt. Mense vir wie jy ontsettend lief is kom en stel jou diep teleur, bedrieg jou, besteel jou op ‘n mooi manier. Ja dit is jou eie mense wat nie kans sien om eers die ou geringste dingetjie vir jou te doen nie. Hulle weier botweg. Tragies maar so waar.

Jesaja 35:10... en die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.

HET U AL GEWEIER OM TE HELP?
(Geld geleen en dit nooit terugbetaal nie? Dis steel. God slaap nie. Hy weet daarvan.)

Maar nou ja, ons verdriet sal nie vir altyd so aanhou nie. God dank ons hoef nie vir altyd te ween/huil nie. Hy luister na ons hartseer gesnik. Dit raak Hom diep, maar onthou dit is soms nodig. Dit kan nie altyd goed gaan nie.

Psalm 30:5... want 'n oomblik is daar in Sy toorn, 'n lewe in Sy goedgunstigheid; saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig.

KEN ONS MENSE VERDRIET? VERTEL…

Het u al diep wonde veroorsaak? Ja ek het en ek is skaam daaroor, vreeslik skaam daaroor en wil vandag met alles binne in my vergoed, maar ek kan dit nie wegwens nie. Gelukkig weet ek dat God die wonde sal genees wat ek self veroorsaak het. (In Engels is daar ‘n mooi woord vir wonde wat jy self veroorsaak het: Self-inflicted wounds)

Psalm 147:3 Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.

HET U AL DIEP WONDE VEROORSAAK?

God het in Sy Woord ‘n Vertrooster (Die Heilige Gees) belowe. Glo u dit? Waar dink u kry ons soms die krag vandaan wanneer dinge vir ons onoorkombaar word? Daar kom mos in elkeen van ons lewens ‘n uur van diepe smarte waaruit ons nooit ongeskonde sal kon kom nie, was dit nie vir die inwerking van die Heilige Gees nie.

Joh 14:16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid:

VOEL U SOMS OF DIE HERE TE VER IS?

Neem die belofte van vrede aan sê Jesus. Die wêreld bied waaragtig geen vrede nie. Wie weet dit beter as onsself. Dag vir dag hoor ons van oorloë en gerugte van oorloë, pessiektes wat op die middag verwoes ens, maar dit gaan by die een oor in en by die ander oor uit, want ons is al so gewoond gemaak aan hierdie dinge dat ons volstrek weier om God se Woord te glo. Ons kan amper soos Mat 10:13 vra of ons huise ooit waardig genoeg is, sodat God se vrede daarop kan kom?

Joh 14:27 Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

WAT BETEKEN DIE WOORD; “SHALOM?”

“Joh 20:19, Joh 20:21, Joh 20:26, 2Joh 1:3, 3Jo 1:14, en in Joh 16:33 in the sense of spiritual peace such as only Christ can give and which his Incarnation offers to men Luk 2:14.”

Onthou dat die toekomstige opstanding vertroosting aan ons bied. Moet nooit treur soos mense wat geen hoop het nie, want daar is ‘n opstanding wat vir ons wag. Dit op sigself is al rede om nie die dood te vrees nie. Hoor hoe duidelik is die Woord oor hierdie saak: Onthou en onthou baie goed; daar is geen voordeel daarin om onverskillig te probeer wees of hierdie dinge te probeer ignoreer nie soos baie van ons die gewoonte het nie. Onthou, die Here sal kom soos ‘n dief in die nag. Jy sal nie gewaarsku word nie. Laat ons dit duidelik stel in groot vet letters:

HEIDENNE (PAGANS) HET GEEN HOOP NIE.

1Th 4:13-17 Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.
Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.
Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die wat in Jesus ontslaap het , saam met Hom bring.
Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.
Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.
Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.

WIL U GRAAG SAAM MET DIE HEIDENNE GETEL WEES?

En hoe wonderlik staan dit daar in die Woord: DIE WAT DOOD IS, SAL WEER LEWE. WOW!!! Onthou: Dit is ‘n feit dat die ou tentwoning, ons liggame afgetakel word en tot stof terugkeer, God maak dit alles, daardie stof, weer bymekaar en wek ons op daardie dag.Waaragtig, hoor vandag; Hy gaan ons tot ‘n nuwe lewe vernuwe en herstel en daardie dag wil ek daar wees. Halleluja!!!!! Ons versoek u om u lewe vandag opnuut aan God oor te gee tot ‘n opstanding in die nuwe lewe.

Joh 5:28-29 Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, Sy stem sal hoor. En sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.

GLO U DAT ONS WEER GAAN OPSTAAN?

Gerrie van Zyl
Lees die artikel en gee jou mening
 

Kant Kaart