Die Oorlog
Ek het laasjaar ‘n paar boekies gekoop by Rina Wiid van Hopetown oor die Oranjerivier konsentrasiekamp. Sy skryf in een van haar boeke:
Susanna Elena Bloem (Nee Vorster) se gesprek op band opgeneem deur Johan en Santa de Beer van Greenhills
Susanna was woonagtig op Uitkyk, Luckhoff, en sy vertel:
Toe die oorlog begin het, was daar oral Engelse soldate. Hulle bajonette het in die warm son geblink; dit het gelyk of die wêreld bewe. Daar was baie goeie Christene onder die Engelse. Kommando’s Boere en Britte het teen mekaar geveg, toe word my oom swaar gewond. ‘n Engelse offisier is lig gewond. Die Boere kry die oorhand en neem die Engelse gewondes saam.
Die offisier het my oom dag vir dag besoek. Hy sê vir my oom: “Is dit nie vreeslik nie? ‘n Mens kry swaar om ‘n hond dood te skiet as hy in jou gesig kyk en ons kan feitlik mekaar se gesigte sien en ons moet koeëls op mekaar los. Dis die regering.” Net soos daar slegte Boere was, was daar ook slegte Engelse.
My oom vertel dat hulle in ‘n ander geveg was, waar die Boere weer die oorhand gekry het. Na die tyd loop hulle daar rond en kyk wie om te begrawe. My oom sien toe ‘n brief by een van die gesneuweldes se sak uitsteek. Hy lees toe die brief en sy trane wou loop. Die brief kom van sy vrou wat skryf: Die twee dogtertjies sit op die stoep en elke ding wat aankom sê hulle: ‘Daar kom Pappie’. Hulle wou net altyd by haar weet wanneer kom pappie. So die Engelse het ook gely.
- Rina Wiid, Die Doornbultkonsentrasiekamp, Oranjerivierstasie, Bienedell Uitgewers, Pretoria, 2006
Daar word vertel dat die Britse soldate so verswak in Suid Afrika aangeland het, dat hulle eers by aankoms gehospitaliseer is om aan te sterk voor hulle aan die oorlog kon deelneem. Op ‘n Britse TV program het ek nou die dag gehoor hoe hulle beweer dat elke Britse ruiter gemiddeld ses perde deur die loop van die oorlog kafgedraf het. Iemand het selfs gesê dat meer Britse offisiere beseer is as gevolg van sy perd wat onder hom inmekaargesak het as wat aan die hand van die Boere gewond is. Al die Britse perde, wat van die buiteland af ingevoer is vir die oorlog, kon nie wei in ons veld nie sodat selfs al hulle voer ingevoer moes word.
Dit alles laat my wonder wat so ‘n bose Empire besiel het om soveel mense, perde en ponde in die stryd te werp net om ‘n paar hillbillies op hul plek te kom sit. Daar is aan my voorgehou dat die oorlog om goud gegaan het. Ja, dit het seker maar vir die Britte daaroor gegaan, maar die opbrengs op hulle belegging maak nie vir my mooi sin nie. Het enige van die Boere ooit gesê: “Julle sal nooit ons goud kry nie!”? Ek vermoed dat die werklike redes vir die oorlog op ‘n veel dieper vlak moet lê.
Op 10 November 1921 (531) sien Siener die kinders wat in die konsentrasiekampe omgekom het met wit klere aan in die Hemel. (A.W.G. Raath & N. van Zyl, Die Vierkleur Wapper Weer: Die Visioene van Siener van Rensburg, Die Vierkleur Uitgewery, Bloemfontein, 1994)
In onder andere Openbaring 7:9-17 lees ons dat die mense met wit klere diegene is wat om sy Naam ontwil gesterf het. Is dit moontlik dat God self sê dat die werklike redes vir die Boere oorlog op ‘n geestelike vlak lê?
Die skrywer F.H. Pretorius het twee boeke geskryf oor die waarheid oor Siener. Myns insiens het hy ‘n boodskap vir elke Christusgelowige wat baie relevant is vir vandag. (Sy boeke kan bestel word deur www.sienervanrensburg.co.za.) Sal dit beteken dat jy jou khaki hemp moet laat stryk, of die vierkleur op jou bo-arm moet laat tatoeëer? Nee, alles behalwe. Dit sal wel van jou vereis om die stoflagie van jou Bybel af te blaas en dalk lei dit jou tot ‘n dieper verhouding met God.
Baie van ons voel vandag soos die Ethiopiër van Handelinge 8:26-39, wat net bietjie Filippus saam op die wa wil laat klim sodat ons die Bybel beter kan verstaan. Daar is ‘n omnibus van David Pawson, Unlocking the Bible, te kry vir sowat R 150 deur www.truthtotell.co.za. Dit is geensins ’n sinistere Bybel kode nie, maar hy sal jou wys dat elke gelowige die Bybel kan lees en beter verstaan. Selfs die profesieë van die Bybel is nie so onverstaanbaar soos ons mag dink nie. Mens kan ’n hele paar sleutels kry by onder andere www.bibleprophecytruth.com/default.asp om dit maklik verstaanbaar te maak.
Satan is nog altyd besig om agteraf te konkel teen God en sy Kerk, maar soos in Esegiël 8 sal dit wat in die duister gedoen word aan die lig gebring word. Jy hoef maar net ‘n Google soektog te doen met sleutelwoorde soos ‘illuminati’, ‘antichrist’ of ‘new world order’ om te sien wat ek bedoel. (Net ‘n ernstige waarskuwing dat daar net so veel goeie disinformasie op die internet is as wat daar goeie informasie is, so doen dit dan asseblief biddend.)
Amper soos in die tyd van koning Josia van II Kronieke 34 het dit nou tyd geword dat elkeen van ons weer opnuut ons lewens (en dit sluit ook ons gemeentes in) moet suiwer en moet vestig op Bybelse waarhede.
Groete,
Seun van die Suide
Lig jou mening oor die artikel